Aangesien vandag Vadersdag is het ek besluit om hierdie post aan my pa toe te wy.
Matthëus, Matewis of vir party mense sommer net Boetie. Dit was my pa. Hy het gehou van sy skaaptjopie by ‘n braai, groentetuin maak in die agterplaas en ‘n vinnige uiltjie knip op die bank oor middagete. Hy was altyd oggende vroeg op om kwotasies uit te werk, het net velskoene werk toe gedra en kon lekker skrik as hy die dag wou. Hy het geweier om Engels te praat, het altyd ‘n V op sy bors gebrand gehad van in die son werk en het ‘n groen hoedjie nes my oupa gedra.
Alhoewel hy ‘n bouer van beroep was, was hy al die jare eintlik ‘n boer van hart. Hy het altyd gesmag na ‘n plaas van sy eie en dit was vir hom so moeilik om te verstaan dat sommige mense plase erf en dan nie wil boer nie, terwyl hy wát sou gee om sy eie plaas te hê.
Dit het hom egter nie gestop nie. Bo en behalwe vir die stukkie grond in die Rooierwe, het my pa altyd êrens in die omgewing plaasgrond gehuur waar sy skape kon loop en waarheen hy elke Saterdag in sy Suzbok (Isuzu bakkie) kon ry om skape te “dose” en seker te maak dat hulle nog “gelukkig” is.
Dit het egter nie beteken dat hy enigsins sy bouwerk afgeskeep het nie. Inteendeel. Die respek wat mense vir my pa en sy werk gehad het word vir my so mooi opgesom in ‘n storie wat ‘n tannie ons ‘n tydjie na sy dood vertel het. ‘n Man met wie sy gesels het het glo gesê dat daar net een ding is wat hy die Here eendag wil vra, en dis hoekom Hy my pa so vroeg gevat het. Hierdie het nog altyd net vir my boekdele gespreuk van die tipe man wat my pa was en het my ook geleer om altyd iets voluit te doen, maak nie saak of dit jou eerste of tweede liefde is nie.
Ek dink dit was dalk ook sy menslikheid wat by só baie mense aanklank gevind het. Hy was ‘n warm mens wat met almal oor die weg gekom het, en het altyd lekker gelag en parkaate gemaak. Self toe hy al baie siek was en ons hom moes help stort, aantrek en voer, moes ons telkemale eers stop om klaar te lag voor ons kon verder gaan. En dis hoe ek my pa wil onthou. Nie sy siekte of dit wat hy nie meer kon doen nie, maar die tipe man wat hy selfs tot op die einde was.
Op my sestiende verjaarsdag, presies 17 dae voor hy oorlede is, het my pa op sy manier vir my gesê dat ons mooi na my ma moet kyk. Ek is seker hy het toe al geweet wat aan die kom is. En as dít die enigste manier is om vir hom dankie te sê vir al die jare wat ons kos gehad het om te eet; dat ons hom nooit dronk gesien het nie of dat hy nooit op my ma geskree het nie en ons altyd eerste geplaas het - dan is dit die minste wat ek kan doen.