Showing posts with label Rooierwe. Show all posts
Showing posts with label Rooierwe. Show all posts

Friday, February 3, 2012

Ek en die pad


Soos ek genoem het, was ons die vakansie op ‘n roadtrip. Ons het gery, tent opgeslaan, geslaap, tent afgeslaan en nogmaals gery. Oor die algemeen was dit awesome – behalwe vir die spoedkaartjie wat ek in die pos gekry het met komplimente van die vriendelike mense by die Beaufort-wes Verkeersdepartement. (My eerste een ooit kan jy glo.)

Om te bestuur was nog altyd een van my gunsteling tydverdrywe. Vandat ek die eerste keer in Standerd 4 agter die wiel ingeklim het, was ek besot daarop. Nou my eerste kennismaking met bestuur het soos vir baie jongmense op die dorp in die Rooierwe begin - Hier was min genoeg om in vas te ry, en nog minder siele wat kan lag as jy die kar laat dood ruk. Ek onthou dit was ‘n Sondag, ons het gery met ons Tazz, en my passasiers was my pa, ma en ouma – ja, ‘n regular family outing :).

Alles het darem verbasend goed verloop, ek meen, geen niksvermoedende skaap of voetganger is beseer nie, en die kar is ook terug huis toe in die toestand waarin hy Rooierwe toe gekom het. So in alle opsigte ‘n goeie ondervinding.

Van toe af het ek nie sommer ‘n “Rooierwe toe gaan” gemis nie. Terwyl my pa by my oupa hulle koffie gedrink het, het ek en my broer eers gestry oor wie se beurt dit is, en daarna al te lekker om die blok met die bakkie gery. Dis maar hoe ons geleer het. Vandag het jy tot in 3de rat gekom en 40km/h gery, terwyl jy môre dalk tot in 4de gevorder het. En so het dit gegaan tot ons gemaklik die pedale kon trap sonder om te vergeet van die stuurwiel bo wat ook aandag verg. Beslis van die beste tye ooit!

Nou uiteindelik kry mens dan mos jou learners - wat dit half wettig maak om op die pad te wees - en dan natuurlik die grote: Uitpaseer vir jou regte lisensie. Teen hierdie tyd was ek en die kar goed bevriend, maar om my lisensie te kry, was daar ‘n paar ekstra kyke, kopdraaie en “hande-op-stuurwiel posisies wat ek nie in die Rooierwe van geleer het nie, en eers moes baasraak. Op die Maandag na my 18de verjaarsdag was dit toe sulke tyd.

Ek was nogal baie op my senuwees, maar alles het goed verloop. Todat een van die gangparkering paaltjies uit die bloute uit besluit het om in my vas te ry (of whatever paaltjies ookal doen). So ja, ek het nie eers by my voorritinspeksie uitgekom nie en het ook nie die geleentheid gekry om my nuut aangeleerde kopdraaie en kyke af te show nie. Dit sou wel kom, maar eers na ‘n hele maand.

Op die 17de Augustus 2006 het ek dit toe gekry…Vryheid. Die “ek gaan wettiglik sokkie toe met die kar”, die “soek jy ‘n lift met my ma se kar?”, die “ek sal winkel toe ry om dit te gaan koop” en al daai lekker goed wat jou soos ‘n grootmens laat voel.

En ja, nou bestuur ek al vir ‘n paar jaar, was al in ‘n ongeluk, op ‘n roadtrip, met ‘n papwiel langs die pad gestrand en by die BP met ‘n stukkende starter verras. Ek het al te vinnig gery (dankie Beaufort-wes), ver gery, en sommer net vir die lekkerte in die nag gaan ry. En deur dit alles ervaar ek nog steeds bestuur soos ek dit daai eerste Sondag in ‘n blou Tazz in die Rooierwe samet my pa, ma, ouma en die niksvermoedende skape ervaar het. As ‘n oomblik van absolute plesier.

Monday, October 17, 2011

Wie se kind is jy? - Die Hantam s'n


Neem kennis: Hierdie post gaan net in Afrikaans wees omdat mens nie regtig my dorp en sy mense in Engels kan beskryf nie. Dit sal tien teen een as ‘n sonde gereken word :)

Net vanaand weer met die kyk van die Klipwerf Orkes se nuutste musiekvideo het ek besef hoe baie ek my tuisdorp mis. Nou ek is nie ‘n groot aanhanger van boeremusiek nie, maar hierdie video het my beslis bietjie laat dink.

Nou moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is baie mal oor die Kaap, en wil nie rêrig op enige ander plek bly nie. Maar mens se geboortedorp bly maar mense se geboortedorp, en as jy boonop 18 jaar van jou lewe op ‘n plek spandeer het, word dit ‘n integrale deel van jou bestaan.

Wat my nogal van die Klipwerf video getref het was die mense daarin.
So wys hulle byvoorbeeld vir oom Jan en tannie Rosa van Jannels, by wie ons vir jare aangeklop het as jou horlosie se battery pap was, jy ‘n nuwe radio of ander elektroniese ding wou koop, of jy net ‘n nuwe “kerkhemp” of das benodig het vir die Valentynsbal. Ek onthou hoe ek eenkeer my ma omgepraat het om vir my ‘n portable cd speler by Jannels te koop, waarvoor ek my sakgeld vir seker 3 maande moes vaarwel roep om dit te kan bekostig. O ja, dankie ma :)

Net so onthou ek ook die dorp se apteek, wat die enigste plek was waar jy in die ou dae jou films kon ingee en dan twee weke moes wag vir jou fotos om te kom, waar geskenkpapier en verjaarsdagkaartjies gekoop kon word, en waar oom Appie, die dorp se apteker, vir jou die regte pille kon gee. Natuurlik met ‘n storie daarby.

Ander plekke wat vir my uitstaan:
Die slaghuis, met hulle heerlike kerrie sosaties en skilpadjies, asook sulke lekker pienk worsies wat altyd op ons inkopielys was wanneer ons die dorp ingevaar het.

Die Hantam Huis, wat ook in die Klipwerf video verskyn en waar Aletta, die eienaars se dogter, jou altyd vriendelik bedien het met die lekkerste skons en room, gemmerbier, kaaskoek en brandewyn tert wat jy al ooit in jou lewe geëet het. (Nie alles op een slag nie natuurlik :)

Daar is nog baie sulke plekke, maar ek vind dis nie al wat ek na verlang nie. Ek mis ook die stil strate waarin ek in die aande met my fiets kon huis toe ry nadat ek by vriende gekuier het. Ek mis die rooi stofwolke van die Rooierwe se kant af tydens donderstorms. Ek mis die berge wat wit lê van die sneeu (of kapok soos dit ook bekend staan, nie dat ek al ooit die verskil tussen sneeu en kapok verstaan het nie, maar toemaar.) Ek mis ryp in die oggende wat die bolaag van die honde se waterbak vries. Ek mis sonsondergange waarvoor jy nie anders kan as om op die dak te klim om die beste foto’s te kry nie. Ek mis ons huis…

Maar genoeg gemis vir eers!

Met al die dinkery besef ek net weer hoe vinnig die tyd vlieg. Oor ‘n paar jaar gaan baie van die plekke en mense wat ek vir 18 jaar amper daagliks gesien en besoek het, dalk net verdwyn asof dit nooit bestaan het nie. Hoe keer ‘n mens dit? Of is dit maar net een van daai dinge. Die lewe gaan aan, die wêreld verander, en herinneringe is al wat oorbly…Moelik om te aanvaar, maar dis hoe dit is.

Ek besef dus ook dat dit nie al is waarop ‘n mens moet fokus nie. Ons lewens bestaan nie net uit waar jy grootgeword het, en wie jy in jou verlede geken het nie. Ons ontmoet daagliks nuwe mense, ervaar nuwe ervarings (wat anders doen mens met ervarings as om dit te ervaar :), en maak nuwe herinneringe wat op die ou end alles ‘n deel van jou unieke self vorm.

So alhoewel dit hartseer is om te sien hoe die tyd vlieg en terug te dink aan goed wat ons dalk nooit weer gaan ervaar nie en mense wat ons dalk nie weer gaan sien nie, is dit ook verblydend om te weet dat ons ten minste bevoorreg genoeg was om dit as ‘n basis tot ons menswees te hê. En beter as dit wat ek gehad het, kan mens nie voor vra nie!

Terwyl ons op ‘n positiewe noot is, sluit ek af.

O ja, hier is die Klipwerf video as iemand dit dalk wou kyk.

Sunday, June 19, 2011

Dit was my pa

Aangesien vandag Vadersdag is het ek besluit om hierdie post aan my pa toe te wy.

Matthëus, Matewis of vir party mense sommer net Boetie. Dit was my pa. Hy het gehou van sy skaaptjopie by ‘n braai, groentetuin maak in die agterplaas en ‘n vinnige uiltjie knip op die bank oor middagete. Hy was altyd oggende vroeg op om kwotasies uit te werk, het net velskoene werk toe gedra en kon lekker skrik as hy die dag wou. Hy het geweier om Engels te praat, het altyd ‘n V op sy bors gebrand gehad van in die son werk en het ‘n groen hoedjie nes my oupa gedra.

Alhoewel hy ‘n bouer van beroep was, was hy al die jare eintlik ‘n boer van hart. Hy het altyd gesmag na ‘n plaas van sy eie en dit was vir hom so moeilik om te verstaan dat sommige mense plase erf en dan nie wil boer nie, terwyl hy wát sou gee om sy eie plaas te hê.

Dit het hom egter nie gestop nie. Bo en behalwe vir die stukkie grond in die Rooierwe, het my pa altyd êrens in die omgewing plaasgrond gehuur waar sy skape kon loop en waarheen hy elke Saterdag in sy Suzbok (Isuzu bakkie) kon ry om skape te “dose” en seker te maak dat hulle nog “gelukkig” is.

Dit het egter nie beteken dat hy enigsins sy bouwerk afgeskeep het nie. Inteendeel. Die respek wat mense vir my pa en sy werk gehad het word vir my so mooi opgesom in ‘n storie wat ‘n tannie ons ‘n tydjie na sy dood vertel het. ‘n Man met wie sy gesels het het glo gesê dat daar net een ding is wat hy die Here eendag wil vra, en dis hoekom Hy my pa so vroeg gevat het. Hierdie het nog altyd net vir my boekdele gespreuk van die tipe man wat my pa was en het my ook geleer om altyd iets voluit te doen, maak nie saak of dit jou eerste of tweede liefde is nie.

Ek dink dit was dalk ook sy menslikheid wat by só baie mense aanklank gevind het. Hy was ‘n warm mens wat met almal oor die weg gekom het, en het altyd lekker gelag en parkaate gemaak. Self toe hy al baie siek was en ons hom moes help stort, aantrek en voer, moes ons telkemale eers stop om klaar te lag voor ons kon verder gaan. En dis hoe ek my pa wil onthou. Nie sy siekte of dit wat hy nie meer kon doen nie, maar die tipe man wat hy selfs tot op die einde was.

Op my sestiende verjaarsdag, presies 17 dae voor hy oorlede is, het my pa op sy manier vir my gesê dat ons mooi na my ma moet kyk. Ek is seker hy het toe al geweet wat aan die kom is. En as dít die enigste manier is om vir hom dankie te sê vir al die jare wat ons kos gehad het om te eet; dat ons hom nooit dronk gesien het nie of dat hy nooit op my ma geskree het nie en ons altyd eerste geplaas het - dan is dit die minste wat ek kan doen.


Monday, May 16, 2011

Die Rooierwe, of moontlik Mars


Net vir ingeval jy gewonder het hoekom hulle dit die Rooierwe noem :) Dankie vir die kiekie Google.

▓ ▓ ▓

Just in case you were wondering why they call it Rooierwe (Red stands). Thanks for the shot Google.

Wednesday, March 2, 2011

Die water lyk alweer soos melk

Stadsmense verstaan selde as ‘n mens opgewonde raak oor die reën. Hoekom? Wel ek dink dis omdat hulle nie regtig weet waar hulle water vandaan kom nie.

Waar ek grootgeword het was die dorpsdam half een van die “besienswaardighede” van die dorp. Nie omdat dit buitengewoon besonders was of omdat daar allerhande watersport beoefen was nie, maar bloot vir die feit dat dit lewe beteken het. (en omdat daar nie véél meer was om te doen nie :)

Nou ja, in Calvinia het almal op een of ander tyd in hulle lewe die dorpsdam stamp vol en ook dol leeg gesien. Wanneer die dam op sy laagste vlak was kon jy een van twee goed verwag as jy die kraan oopdraai. Óf “lekker” brakwater van die boorgate wat moet “handjie bysit”, of brakwater wat soveel chloor by het dat dit eers so ‘n tydjie moet staan vir die kleur om van melkerige wit na “gewone water kleur” te verander.

Een goeie ding van die droogtes, as mens dit só kan stel, is dat daar darem altyd weer verligting ook gekom het. Die beste hiervan was natuurlik die donderweerstorms, wat altyd vinnig en hard was en gesorg het vir strome rooi water wat sommer uit die rooierwe uit in die dorp ingestroom het.

Ek onthou hoe ons eenkeer gaan rondry het om die water te kyk, en toe hoeka in die rooierwe gaan vassit het. Die straat wat verby die ou kragstasie loop was bekend daarvoor dat dit sommer in ‘n rivier kan verander as dit hard genoeg gereën het, en dit was dié einste straat waar ons tot ‘n stilstand gekom het. Sommer so dat ek en my ma moes uitklim om die bakkie te stoot terwyl my pa voorin gedoen het wat hy kon om ons uit die modder te kry. Verbygangers moes ook sommer inspring om te help en toe die bakkie met ‘n groot gespin uit die modder kom, en ons vol van daai modder agterop kon klim, het die verbygangers ook sommer ‘n “lift” gekry.

So ja, of ons nou rondgery het om die water te kyk, uitgevra het oor hoeveel duim dit al gereën het, gekla het oor die slegte water of gejuig het omdat nog ‘n droogte verby was, in my dorp het ons geweet waar ons water vandaan kom.

Ek sluit af met die volgende. (laat klink ek dit nou soos ‘n redenaars toespraak! :) Iemand het eenkeer gesê dat dit vir hulle besonders is hoe mense van ander dorpe nie gepla is met die reën nie, maar as dit in Calvinia reën, jy amper almal in die strate sal sien.


Hierdie foto is einde laasjaar by die dorpsdam geneem, toe ons een naweek Calvinia toe was.

Wednesday, February 16, 2011

Kry die volle prentjie


Hierdie is dieselfde foto wat op die agtergrond van my blog verskyn, en is heel toevallig in die Rooierwe geneem. Die berg is egter so groot, dat dit nie op die blog agtergrond inpas nie. (Of ek is net te dom om die foto reg te crop...een van die twee :) Hier is die Rooierwe redelik groen, maar moenie dink dit lyk altyd so nie.


This is the same photo that is on the background of my blog, and was taken in the actual Rooierwe. However the mountain is so big that is doesn't fit on the blog background. (Or I'm too stupid to crop the photo correctly...one of the two :) The Rooierwe looks pretty green here, but I can almost safely say that it was a one time thing.

Thursday, February 3, 2011

Logo?


 Wat dink julle, kan dit vir eers werk as 'n "logo" vir Rooierwe?

What do you think? Can this work as a "logo" for Rooierwe for now?

Wednesday, February 2, 2011

Die turksvy: Lelik en vol dorings, maar vrek lekker!

Ek het vandag gou vinnig by Fruit and Veg ingehol en sien toe sowaar ‘n boks turksvye teen ‘n prys wat nie die sak te seer sal maak nie. Ek het egter hierdie maand al klaar te veel spandeer, maar daai boks turksvye moes ek hê. En hier’s hoekom…

Ek onthou hoe ons al die jare emmers vol turksvye van die Rooierwe af gekry het (verniet natuurlik), wat dan eers in ‘n ou 25l verfblik in die water moes lê vir al die dorings om af te kom. Daarna is dit sorgvuldig met ‘n vurk op die bord vasgepen, die twee punte met ‘n mes afgesny en die ryp turksvy uitgerol uit die skil.

As jy jou lus kon sluk en bietjie wag vir die turksvye om lekker koud te raak in die yskas, kon jy dit op hul beste ervaar. Die bak het egter redelik vinnig gesak, so as jy te lank gewag het, moes jy dalk tot die volgende turksvyseison wag.

My “verhouding” met turksvye het egter nie by die vrug geeindig nie, maar selfs die blare ook ingesluit. Daar was ‘n tyd wat ek en my broer elkeen ons eie stuk draad gehad het, wat elke keer getrou saam Rooierwe toe gevat is om turksvyblare al die pad deur die grondpaaie tot by die huis agter die bakkie te sleep. As die pad erg sinkplaat was, het jou blaar dalk nog voor die eerste draai van die draad af gekom, maar andersins was dit “smooth sailing”, veral as jy dit kon regkry om joune bo-op die ander een se blaar te laat ry.

Dit was egter nie iets wat ons elke aand kon doen nie, want ons het geweet ons sleepery kon ‘n groot impak op die volgende jaar se turksvy oes hê.

As kind het ons dit baie geniet, en nou as “grootmens” sal ek dit enigetyd weer doen. Gee my net ‘n bakkie, ‘n turksvyblaar en ‘n stuk draad!

Na al die pratery sal ek maar gou die Fruit and Veg boks moet nader sleep en enetjie geniet…of twee…of drie.