Soos ek genoem het, was ons die vakansie op ‘n roadtrip. Ons
het gery, tent opgeslaan, geslaap, tent afgeslaan en nogmaals gery. Oor die
algemeen was dit awesome – behalwe vir die spoedkaartjie wat ek in die pos
gekry het met komplimente van die vriendelike mense by die Beaufort-wes
Verkeersdepartement. (My eerste een ooit kan
jy glo.)
Om te bestuur was nog altyd
een van my gunsteling tydverdrywe. Vandat ek die eerste keer in Standerd 4 agter
die wiel ingeklim het, was ek besot daarop. Nou my eerste kennismaking met
bestuur het soos vir baie jongmense op die dorp in die Rooierwe begin - Hier
was min genoeg om in vas te ry, en nog minder siele wat kan lag as jy die kar laat dood ruk. Ek
onthou dit was ‘n Sondag, ons het gery met ons Tazz, en my passasiers was my
pa, ma en ouma – ja, ‘n regular family outing :).
Alles het darem verbasend goed verloop, ek meen, geen
niksvermoedende skaap of voetganger is beseer nie, en die kar is ook terug huis
toe in die toestand waarin hy Rooierwe toe gekom het. So in alle opsigte ‘n
goeie ondervinding.
Van toe af het ek nie sommer ‘n “Rooierwe toe gaan” gemis
nie. Terwyl my pa by my oupa hulle koffie gedrink het, het ek en my broer eers
gestry oor wie se beurt dit is, en daarna al te lekker om die blok met die
bakkie gery. Dis maar hoe ons geleer het. Vandag het jy tot in 3de rat gekom en
40km/h gery, terwyl jy môre dalk tot in 4de gevorder het. En so het dit gegaan
tot ons gemaklik die pedale kon trap sonder om te vergeet van die stuurwiel bo
wat ook aandag verg. Beslis van die beste tye ooit!
Nou uiteindelik kry mens dan mos jou learners - wat dit half
wettig maak om op die pad te wees - en dan natuurlik die grote: Uitpaseer vir
jou regte lisensie. Teen hierdie tyd was ek en die kar goed bevriend, maar om my
lisensie te kry, was daar ‘n paar ekstra kyke, kopdraaie en “hande-op-stuurwiel
posisies wat ek nie in die Rooierwe van geleer het nie, en eers moes baasraak.
Op die Maandag na my 18de verjaarsdag was dit toe sulke tyd.
Ek was nogal baie op my senuwees, maar alles het goed
verloop. Todat een van die gangparkering paaltjies uit die bloute uit besluit
het om in my vas te ry (of whatever paaltjies ookal doen). So ja, ek het nie
eers by my voorritinspeksie uitgekom nie en het ook nie die geleentheid gekry
om my nuut aangeleerde kopdraaie en kyke af te show nie. Dit sou wel kom, maar
eers na ‘n hele maand.
Op die 17de Augustus 2006 het ek dit toe gekry…Vryheid. Die
“ek gaan wettiglik sokkie toe met die kar”, die “soek jy ‘n lift met my ma se
kar?”, die “ek sal winkel toe ry om dit te gaan koop” en al daai lekker goed
wat jou soos ‘n grootmens laat voel.
En ja, nou bestuur ek al vir ‘n paar jaar, was al in ‘n
ongeluk, op ‘n roadtrip, met ‘n papwiel langs die pad gestrand en by die BP met
‘n stukkende starter verras. Ek het al te vinnig gery (dankie Beaufort-wes),
ver gery, en sommer net vir die lekkerte in die nag gaan ry. En deur dit alles ervaar
ek nog steeds bestuur soos ek dit daai eerste Sondag in ‘n blou Tazz in die Rooierwe
samet my pa, ma, ouma en die niksvermoedende skape ervaar het. As ‘n oomblik
van absolute plesier.