Showing posts with label Calvinia. Show all posts
Showing posts with label Calvinia. Show all posts

Monday, October 17, 2011

Wie se kind is jy? - Die Hantam s'n


Neem kennis: Hierdie post gaan net in Afrikaans wees omdat mens nie regtig my dorp en sy mense in Engels kan beskryf nie. Dit sal tien teen een as ‘n sonde gereken word :)

Net vanaand weer met die kyk van die Klipwerf Orkes se nuutste musiekvideo het ek besef hoe baie ek my tuisdorp mis. Nou ek is nie ‘n groot aanhanger van boeremusiek nie, maar hierdie video het my beslis bietjie laat dink.

Nou moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is baie mal oor die Kaap, en wil nie rêrig op enige ander plek bly nie. Maar mens se geboortedorp bly maar mense se geboortedorp, en as jy boonop 18 jaar van jou lewe op ‘n plek spandeer het, word dit ‘n integrale deel van jou bestaan.

Wat my nogal van die Klipwerf video getref het was die mense daarin.
So wys hulle byvoorbeeld vir oom Jan en tannie Rosa van Jannels, by wie ons vir jare aangeklop het as jou horlosie se battery pap was, jy ‘n nuwe radio of ander elektroniese ding wou koop, of jy net ‘n nuwe “kerkhemp” of das benodig het vir die Valentynsbal. Ek onthou hoe ek eenkeer my ma omgepraat het om vir my ‘n portable cd speler by Jannels te koop, waarvoor ek my sakgeld vir seker 3 maande moes vaarwel roep om dit te kan bekostig. O ja, dankie ma :)

Net so onthou ek ook die dorp se apteek, wat die enigste plek was waar jy in die ou dae jou films kon ingee en dan twee weke moes wag vir jou fotos om te kom, waar geskenkpapier en verjaarsdagkaartjies gekoop kon word, en waar oom Appie, die dorp se apteker, vir jou die regte pille kon gee. Natuurlik met ‘n storie daarby.

Ander plekke wat vir my uitstaan:
Die slaghuis, met hulle heerlike kerrie sosaties en skilpadjies, asook sulke lekker pienk worsies wat altyd op ons inkopielys was wanneer ons die dorp ingevaar het.

Die Hantam Huis, wat ook in die Klipwerf video verskyn en waar Aletta, die eienaars se dogter, jou altyd vriendelik bedien het met die lekkerste skons en room, gemmerbier, kaaskoek en brandewyn tert wat jy al ooit in jou lewe geëet het. (Nie alles op een slag nie natuurlik :)

Daar is nog baie sulke plekke, maar ek vind dis nie al wat ek na verlang nie. Ek mis ook die stil strate waarin ek in die aande met my fiets kon huis toe ry nadat ek by vriende gekuier het. Ek mis die rooi stofwolke van die Rooierwe se kant af tydens donderstorms. Ek mis die berge wat wit lê van die sneeu (of kapok soos dit ook bekend staan, nie dat ek al ooit die verskil tussen sneeu en kapok verstaan het nie, maar toemaar.) Ek mis ryp in die oggende wat die bolaag van die honde se waterbak vries. Ek mis sonsondergange waarvoor jy nie anders kan as om op die dak te klim om die beste foto’s te kry nie. Ek mis ons huis…

Maar genoeg gemis vir eers!

Met al die dinkery besef ek net weer hoe vinnig die tyd vlieg. Oor ‘n paar jaar gaan baie van die plekke en mense wat ek vir 18 jaar amper daagliks gesien en besoek het, dalk net verdwyn asof dit nooit bestaan het nie. Hoe keer ‘n mens dit? Of is dit maar net een van daai dinge. Die lewe gaan aan, die wêreld verander, en herinneringe is al wat oorbly…Moelik om te aanvaar, maar dis hoe dit is.

Ek besef dus ook dat dit nie al is waarop ‘n mens moet fokus nie. Ons lewens bestaan nie net uit waar jy grootgeword het, en wie jy in jou verlede geken het nie. Ons ontmoet daagliks nuwe mense, ervaar nuwe ervarings (wat anders doen mens met ervarings as om dit te ervaar :), en maak nuwe herinneringe wat op die ou end alles ‘n deel van jou unieke self vorm.

So alhoewel dit hartseer is om te sien hoe die tyd vlieg en terug te dink aan goed wat ons dalk nooit weer gaan ervaar nie en mense wat ons dalk nie weer gaan sien nie, is dit ook verblydend om te weet dat ons ten minste bevoorreg genoeg was om dit as ‘n basis tot ons menswees te hê. En beter as dit wat ek gehad het, kan mens nie voor vra nie!

Terwyl ons op ‘n positiewe noot is, sluit ek af.

O ja, hier is die Klipwerf video as iemand dit dalk wou kyk.

Saturday, April 2, 2011

Alles behalwe "random" fotos



Uitsig vanaf ons huis./View from our house.

Ook vanaf ons huis geneem...duh./Also taken from our house...duh.



Net oor die witbrug, buite die dorp./Just outside town.

Sommer so bietjie deur my Calvinia fotos gegaan en besluit om 'n paar te deel. Wie't nou 'n Ster Kinekor of Nu Metro nodig gehad as jy hierna kon kyk?

▓ ▓ ▓

I had a look through my Calvinia photos and decided to share a few. Who needed a cinema when we had this to look at?

Wednesday, March 2, 2011

Die water lyk alweer soos melk

Stadsmense verstaan selde as ‘n mens opgewonde raak oor die reën. Hoekom? Wel ek dink dis omdat hulle nie regtig weet waar hulle water vandaan kom nie.

Waar ek grootgeword het was die dorpsdam half een van die “besienswaardighede” van die dorp. Nie omdat dit buitengewoon besonders was of omdat daar allerhande watersport beoefen was nie, maar bloot vir die feit dat dit lewe beteken het. (en omdat daar nie véél meer was om te doen nie :)

Nou ja, in Calvinia het almal op een of ander tyd in hulle lewe die dorpsdam stamp vol en ook dol leeg gesien. Wanneer die dam op sy laagste vlak was kon jy een van twee goed verwag as jy die kraan oopdraai. Óf “lekker” brakwater van die boorgate wat moet “handjie bysit”, of brakwater wat soveel chloor by het dat dit eers so ‘n tydjie moet staan vir die kleur om van melkerige wit na “gewone water kleur” te verander.

Een goeie ding van die droogtes, as mens dit só kan stel, is dat daar darem altyd weer verligting ook gekom het. Die beste hiervan was natuurlik die donderweerstorms, wat altyd vinnig en hard was en gesorg het vir strome rooi water wat sommer uit die rooierwe uit in die dorp ingestroom het.

Ek onthou hoe ons eenkeer gaan rondry het om die water te kyk, en toe hoeka in die rooierwe gaan vassit het. Die straat wat verby die ou kragstasie loop was bekend daarvoor dat dit sommer in ‘n rivier kan verander as dit hard genoeg gereën het, en dit was dié einste straat waar ons tot ‘n stilstand gekom het. Sommer so dat ek en my ma moes uitklim om die bakkie te stoot terwyl my pa voorin gedoen het wat hy kon om ons uit die modder te kry. Verbygangers moes ook sommer inspring om te help en toe die bakkie met ‘n groot gespin uit die modder kom, en ons vol van daai modder agterop kon klim, het die verbygangers ook sommer ‘n “lift” gekry.

So ja, of ons nou rondgery het om die water te kyk, uitgevra het oor hoeveel duim dit al gereën het, gekla het oor die slegte water of gejuig het omdat nog ‘n droogte verby was, in my dorp het ons geweet waar ons water vandaan kom.

Ek sluit af met die volgende. (laat klink ek dit nou soos ‘n redenaars toespraak! :) Iemand het eenkeer gesê dat dit vir hulle besonders is hoe mense van ander dorpe nie gepla is met die reën nie, maar as dit in Calvinia reën, jy amper almal in die strate sal sien.


Hierdie foto is einde laasjaar by die dorpsdam geneem, toe ons een naweek Calvinia toe was.