Tuesday, March 8, 2011

Toe tapes nog volop was


Kyk wat grawe ek die naweek by die huis uit die kas uit. My ou “Walkman” En ja, nadat ek vinnig twee batterye gekry het en ook in ‘n paar laaie gegrawe het vir ‘n tape of twee, kan ek met trots sê dat hy nog 100% reg werk.

Ek kan nie presies die jaar onthou nie, maar ek verbeel my dat dit my 1997 kersgeskenk was. Ons hele familie het by my tannie hulle in Oranjemund gaan Kersfees hou, en my ma’le het vir ons vier jongste neefies elk ‘n eiesoortige “walkman” gekoop, alhoewel ek nog al die jare gedink het myne was die coolste :)

Ek is amper seker dat myne ook die enigste van die vier is wat nog lewe, aangesien ek weet dat my broer s’n erens langs die pad ophou “walk” het en ek nie dink my neefs se “Walkmans” hul “skroef-alles-oop-wat-met-krag-werk” stadium sou oorleef het nie (maar ek kan verkeerd wees.)

In ‘n tyd toe daar nog nie iets soos cds was nie, het ons met tapes wonders gedoen. Saterdae wanneer hulle top tien musiek oor die radio gespeel het, het ons reggestaan met ‘n vinger op die record knoppie om jou gunstelling liedjies so na as moontlik aan die begin van die liedjie te begin opneem. Dit het beteken dat ons na hartelus kon luister totdat ons behoorlik siek en sat was vir van die liedjies, waarna ons dan weer van vooraf bo-oor kon begin tape.

As jy egter nie van jou liedjies wou verloor nie, was jy genoodsaak om ‘n nuwe tape te gaan koop. Nou hier moes jy slim gewees het. As jy winkel toe gegaan het, het elke goeie tapekoper geweet dat jy nie die 90 minute tape moet vat nie, maar wel die 60 minute een. Die rede hiervoor is dat die 90 tapes meer geneig was om te begin trek, en dan het Michael Jackson of wie ookal jy opgeneem het se stem eers snaaks begin klink.

Op sommige tapespelers, my “Walkman” ingesluit, was daar nie ‘n rewind knoppie nie. Dit was egter nie so ‘n groot probleem nie, want al wat jy moes doen was om vinnig die tape om te draai, fast forward te druk, en dan weer die tape na sy oorspronklike kant te draai totdat jy die begin van jou liedjie of die einde van die liedjie voor jou liedjie gevang gekry het.

Dalk primitief, maar dit was beslis awesome tye gewees.

No comments:

Post a Comment

Los daar 'n comment, toe! If a red line appears after you click "Post Comment", just keep clicking it until your comment is submitted. It usually works after the 3rd click. Please.