Wednesday, March 2, 2011

Die water lyk alweer soos melk

Stadsmense verstaan selde as ‘n mens opgewonde raak oor die reën. Hoekom? Wel ek dink dis omdat hulle nie regtig weet waar hulle water vandaan kom nie.

Waar ek grootgeword het was die dorpsdam half een van die “besienswaardighede” van die dorp. Nie omdat dit buitengewoon besonders was of omdat daar allerhande watersport beoefen was nie, maar bloot vir die feit dat dit lewe beteken het. (en omdat daar nie véél meer was om te doen nie :)

Nou ja, in Calvinia het almal op een of ander tyd in hulle lewe die dorpsdam stamp vol en ook dol leeg gesien. Wanneer die dam op sy laagste vlak was kon jy een van twee goed verwag as jy die kraan oopdraai. Óf “lekker” brakwater van die boorgate wat moet “handjie bysit”, of brakwater wat soveel chloor by het dat dit eers so ‘n tydjie moet staan vir die kleur om van melkerige wit na “gewone water kleur” te verander.

Een goeie ding van die droogtes, as mens dit só kan stel, is dat daar darem altyd weer verligting ook gekom het. Die beste hiervan was natuurlik die donderweerstorms, wat altyd vinnig en hard was en gesorg het vir strome rooi water wat sommer uit die rooierwe uit in die dorp ingestroom het.

Ek onthou hoe ons eenkeer gaan rondry het om die water te kyk, en toe hoeka in die rooierwe gaan vassit het. Die straat wat verby die ou kragstasie loop was bekend daarvoor dat dit sommer in ‘n rivier kan verander as dit hard genoeg gereën het, en dit was dié einste straat waar ons tot ‘n stilstand gekom het. Sommer so dat ek en my ma moes uitklim om die bakkie te stoot terwyl my pa voorin gedoen het wat hy kon om ons uit die modder te kry. Verbygangers moes ook sommer inspring om te help en toe die bakkie met ‘n groot gespin uit die modder kom, en ons vol van daai modder agterop kon klim, het die verbygangers ook sommer ‘n “lift” gekry.

So ja, of ons nou rondgery het om die water te kyk, uitgevra het oor hoeveel duim dit al gereën het, gekla het oor die slegte water of gejuig het omdat nog ‘n droogte verby was, in my dorp het ons geweet waar ons water vandaan kom.

Ek sluit af met die volgende. (laat klink ek dit nou soos ‘n redenaars toespraak! :) Iemand het eenkeer gesê dat dit vir hulle besonders is hoe mense van ander dorpe nie gepla is met die reën nie, maar as dit in Calvinia reën, jy amper almal in die strate sal sien.


Hierdie foto is einde laasjaar by die dorpsdam geneem, toe ons een naweek Calvinia toe was.

1 comment:

  1. Hahahaha ek weet presies waarvan jy praat, ai, hoe laat jy my nou huis toe verlang! Goeie ou Calvinia....

    ReplyDelete

Los daar 'n comment, toe! If a red line appears after you click "Post Comment", just keep clicking it until your comment is submitted. It usually works after the 3rd click. Please.