Friday, February 3, 2012

Ek en die pad


Soos ek genoem het, was ons die vakansie op ‘n roadtrip. Ons het gery, tent opgeslaan, geslaap, tent afgeslaan en nogmaals gery. Oor die algemeen was dit awesome – behalwe vir die spoedkaartjie wat ek in die pos gekry het met komplimente van die vriendelike mense by die Beaufort-wes Verkeersdepartement. (My eerste een ooit kan jy glo.)

Om te bestuur was nog altyd een van my gunsteling tydverdrywe. Vandat ek die eerste keer in Standerd 4 agter die wiel ingeklim het, was ek besot daarop. Nou my eerste kennismaking met bestuur het soos vir baie jongmense op die dorp in die Rooierwe begin - Hier was min genoeg om in vas te ry, en nog minder siele wat kan lag as jy die kar laat dood ruk. Ek onthou dit was ‘n Sondag, ons het gery met ons Tazz, en my passasiers was my pa, ma en ouma – ja, ‘n regular family outing :).

Alles het darem verbasend goed verloop, ek meen, geen niksvermoedende skaap of voetganger is beseer nie, en die kar is ook terug huis toe in die toestand waarin hy Rooierwe toe gekom het. So in alle opsigte ‘n goeie ondervinding.

Van toe af het ek nie sommer ‘n “Rooierwe toe gaan” gemis nie. Terwyl my pa by my oupa hulle koffie gedrink het, het ek en my broer eers gestry oor wie se beurt dit is, en daarna al te lekker om die blok met die bakkie gery. Dis maar hoe ons geleer het. Vandag het jy tot in 3de rat gekom en 40km/h gery, terwyl jy môre dalk tot in 4de gevorder het. En so het dit gegaan tot ons gemaklik die pedale kon trap sonder om te vergeet van die stuurwiel bo wat ook aandag verg. Beslis van die beste tye ooit!

Nou uiteindelik kry mens dan mos jou learners - wat dit half wettig maak om op die pad te wees - en dan natuurlik die grote: Uitpaseer vir jou regte lisensie. Teen hierdie tyd was ek en die kar goed bevriend, maar om my lisensie te kry, was daar ‘n paar ekstra kyke, kopdraaie en “hande-op-stuurwiel posisies wat ek nie in die Rooierwe van geleer het nie, en eers moes baasraak. Op die Maandag na my 18de verjaarsdag was dit toe sulke tyd.

Ek was nogal baie op my senuwees, maar alles het goed verloop. Todat een van die gangparkering paaltjies uit die bloute uit besluit het om in my vas te ry (of whatever paaltjies ookal doen). So ja, ek het nie eers by my voorritinspeksie uitgekom nie en het ook nie die geleentheid gekry om my nuut aangeleerde kopdraaie en kyke af te show nie. Dit sou wel kom, maar eers na ‘n hele maand.

Op die 17de Augustus 2006 het ek dit toe gekry…Vryheid. Die “ek gaan wettiglik sokkie toe met die kar”, die “soek jy ‘n lift met my ma se kar?”, die “ek sal winkel toe ry om dit te gaan koop” en al daai lekker goed wat jou soos ‘n grootmens laat voel.

En ja, nou bestuur ek al vir ‘n paar jaar, was al in ‘n ongeluk, op ‘n roadtrip, met ‘n papwiel langs die pad gestrand en by die BP met ‘n stukkende starter verras. Ek het al te vinnig gery (dankie Beaufort-wes), ver gery, en sommer net vir die lekkerte in die nag gaan ry. En deur dit alles ervaar ek nog steeds bestuur soos ek dit daai eerste Sondag in ‘n blou Tazz in die Rooierwe samet my pa, ma, ouma en die niksvermoedende skape ervaar het. As ‘n oomblik van absolute plesier.

3 comments:

  1. Jy het nagelaat om te noem dat 'n mens se lus om te ry aangevuur word deur 'n nuwe kar! Dan ry mens van voor af graag, en kom al daai goed in die begin soos om winkel toe te ry ens. terug. Niks, behalwe die ouderdom, verander dit nie

    ReplyDelete
  2. elo Wynie,

    Dit was nou regtig vir my 'n plesier om die stukkie te lees.
    ek sien jy het dit in die vroee oggend ure op gelaai.

    Dit het vir my so laat terug dink aan my jonger dae en besef hoe ek dit ook beleef het.

    Ek wens soms dat ek kan terug gaan na daardie sorgvrye onskuldige dae. en dan dink jy terug hoe moelik jy gedink het dit sou wees om te eintlik te leer bestuur. nou sit jy met venster afgedraai arm op die deur en bump jou kop saam met die muskies. ek dink nou aan daardie movies waar die kar ook sommer saam dans. hehe.

    Ja nee, dit was 'n regte plesier gewees. en ek kon 'n stukkie leer ken van wie jy as persoon is, 'n terug blits uit jou verlede.

    sien uit na nog 'n stukkie van jou verlede.

    groete

    ReplyDelete
  3. Ja nee kyk... so lief soos wat jy is vir ry, net so lief is ek daarvoor om passasier te wees. Veral spontane middernag mini road trips.

    Yay! Wimpy koffie!

    Hoe gan daai saying... Life's a journey, enjoy the ride ;)

    ReplyDelete

Los daar 'n comment, toe! If a red line appears after you click "Post Comment", just keep clicking it until your comment is submitted. It usually works after the 3rd click. Please.