Ek staan nou hier in my woonstel se kombuis, kyk na ‘n leë bottel wat op die toonbank staan en wonder hoe ek dit kan gebruik. Onmiddelik laat dink dit my toe aan een keer toe ek nog in die huis gebly het.
Jy kan seker sê dat ek half ‘n reputasie gekry het as die een in die huis wat alewig goed opgegaar het om later iets daaruit te maak. So het ek wasgoedlepels, ou pay as you go recharge vouchers, koeldrankblikkies ens. bymekaar gemaak vir`n latere oomblik wanneer inspirasie my sou tref.
En nou kom ek by die storie waaroor hierdie post gaan. Eendag gooi ek toe die laaste melk uit die melkbottel en staan ek kyk toe die bottel met die gedagte om dit vir iets te gebruik. Op daardie presiese oomblik stap my ma toe ook in die kombuis in, en voor iemand nog iets kon sê, kap sy my met ‘n vinnig en reguit “Nee!”. So asof sy presies geweet het wat in my kop aan die gebeur is.
Soos hulle sê, ouers ken hulle kinders en teen hierdie tyd het my ma al die gesigsuitdrukking geken wat wys dat daar iets in my kop aan die broei is. Dit was egter nie ‘n manier om my kreatiwiteit stop te sit nie, sy wou net nie diè bottel ook nog in haar huis sien rondlê het nie. Wat seker verstaanbaar is :)
Dis hierdie soort herinneringe wat my ouma as “kostelik” sou bestempel, en wat my elke dag net laat besef hoe lief ek vir al my familie se “dingetjies” is.