Sunday, June 19, 2011

Dit was my pa

Aangesien vandag Vadersdag is het ek besluit om hierdie post aan my pa toe te wy.

Matthëus, Matewis of vir party mense sommer net Boetie. Dit was my pa. Hy het gehou van sy skaaptjopie by ‘n braai, groentetuin maak in die agterplaas en ‘n vinnige uiltjie knip op die bank oor middagete. Hy was altyd oggende vroeg op om kwotasies uit te werk, het net velskoene werk toe gedra en kon lekker skrik as hy die dag wou. Hy het geweier om Engels te praat, het altyd ‘n V op sy bors gebrand gehad van in die son werk en het ‘n groen hoedjie nes my oupa gedra.

Alhoewel hy ‘n bouer van beroep was, was hy al die jare eintlik ‘n boer van hart. Hy het altyd gesmag na ‘n plaas van sy eie en dit was vir hom so moeilik om te verstaan dat sommige mense plase erf en dan nie wil boer nie, terwyl hy wát sou gee om sy eie plaas te hê.

Dit het hom egter nie gestop nie. Bo en behalwe vir die stukkie grond in die Rooierwe, het my pa altyd êrens in die omgewing plaasgrond gehuur waar sy skape kon loop en waarheen hy elke Saterdag in sy Suzbok (Isuzu bakkie) kon ry om skape te “dose” en seker te maak dat hulle nog “gelukkig” is.

Dit het egter nie beteken dat hy enigsins sy bouwerk afgeskeep het nie. Inteendeel. Die respek wat mense vir my pa en sy werk gehad het word vir my so mooi opgesom in ‘n storie wat ‘n tannie ons ‘n tydjie na sy dood vertel het. ‘n Man met wie sy gesels het het glo gesê dat daar net een ding is wat hy die Here eendag wil vra, en dis hoekom Hy my pa so vroeg gevat het. Hierdie het nog altyd net vir my boekdele gespreuk van die tipe man wat my pa was en het my ook geleer om altyd iets voluit te doen, maak nie saak of dit jou eerste of tweede liefde is nie.

Ek dink dit was dalk ook sy menslikheid wat by só baie mense aanklank gevind het. Hy was ‘n warm mens wat met almal oor die weg gekom het, en het altyd lekker gelag en parkaate gemaak. Self toe hy al baie siek was en ons hom moes help stort, aantrek en voer, moes ons telkemale eers stop om klaar te lag voor ons kon verder gaan. En dis hoe ek my pa wil onthou. Nie sy siekte of dit wat hy nie meer kon doen nie, maar die tipe man wat hy selfs tot op die einde was.

Op my sestiende verjaarsdag, presies 17 dae voor hy oorlede is, het my pa op sy manier vir my gesê dat ons mooi na my ma moet kyk. Ek is seker hy het toe al geweet wat aan die kom is. En as dít die enigste manier is om vir hom dankie te sê vir al die jare wat ons kos gehad het om te eet; dat ons hom nooit dronk gesien het nie of dat hy nooit op my ma geskree het nie en ons altyd eerste geplaas het - dan is dit die minste wat ek kan doen.


5 comments:

  1. Ag dis beautiful Wynand!! Dink vandag aan jou, sterkte! :)

    Nadia

    ReplyDelete
  2. Ag Wynand ek en oom Bertie het dit nou so geniet om jou blog oor jou Pa te lees - net soos ons hom geken het.
    In die tyd wat hy ons huis reggemaak het, het ons net so baie grappe gedeel en soveel keer moes hy vir my gaan inkopies doen as hy dorp toe ry - dan is dit gare en dan stukkie materiaal.
    Ons sal nooit jou Pa vergeet nie want hy het net soveel goeie werk vir ons gedoen.Kon hom ook omkoop met skapies as ons 'n vinnige werkie op Saterdag gedoen wou hê - besef hoe lief hy sy boerdery gehad het.Ons sal nooit verstaan hoekom goeie mense soos hy so vroeg moet gaan nie.So wonderlik dat julle jou ma so mooi ondersteun.

    ReplyDelete
  3. Dankie Wynand vir hierdie mooi getuienis oor jou pa. Ek gaan ook eendag vir ons Vader vra hoekom Hy jou pa so vroeg gevat het. Op die ou end het julle 2 seuns deur al die jare van vir julle ma help om julle pa te versorg - in pragtige jong manne uitgedraai. - T Stien

    ReplyDelete
  4. Dankie almal. Dis goed om te weet daar's baie ander mense wat hom ook so ervaar het.

    ReplyDelete
  5. Dit is regtig 'n mooi stukkie die!!!!! maak my hoop en bid dat ek ook so 'n great man sal kry soos jou pa was. Jou ouers het n great job gedoen want Jy en Nico is regtig voorstaande mans! Dankie vir jou Pa dat ek sulke great vriende in julle het!

    ReplyDelete

Los daar 'n comment, toe! If a red line appears after you click "Post Comment", just keep clicking it until your comment is submitted. It usually works after the 3rd click. Please.