Wednesday, October 24, 2012

Isuzu's kan nie swem nie


Met al die oorstromings wat so in die Oos-Kaap woed, dink ek vanaand bietjie terug aan die slag wat my pa self in die middel van ‘n effense oorstroming beland het. Nou dit het baie baie jare gelede gebeur, so of my feite honderd persent korrek is weet ek nie, maar ag wat, dit wat ek kan onthou sal ek neerskryf,

Nou die storie loop so. My pa het buite die dorp op ‘n plaas bouwerk gedoen en was op pad na die plaas òf op pad terug dorp toe met ‘n paar werksmense by hom. Sover ek verstaan (en kan onthou) het hulle by ‘n rivier gekom, vinnig-vinnig die diepte gekyk, en toe besluit dat die Isuzu die pad deur die verbyvloeiende rooibruinwater sal kan aanpak. Soos die nootlot dit wil hê, kom die rivier toe net mooi goed af met dié wat hulle in die middel is, en daar gaan my pa met Isuzu en al rivier-af, in plaas van rivier-oor!

Van wat hy vertel het was dit “vinnig uitspring en naaste biesiebos gryp” om jouself te red, of dis plaasdam of dalk see se kant toe met jou! Wonder bo wonder het niemand iets oorgekom nie, en hulle het maar die pad plaas toe te voet aangedurf. As ek reg onthou het het my pa se broek êrens in die rivier geskeur, of a.g.v. oor ‘n draad klim, en hy het dus in sy onderbroek by die plaas opgedaag. (Gelukkig het hy nog baie PT-broeke gehad waar daai een vandaan gekom het.) Daar het hulle toe die nag deurgebring en sou die volgende oggend tot verhaal kom van wat gebeur het, en wat nou moes gebeur.

Na die hele affêre was dit tyd om rekening te neem van al die skade. Die bakkie was natuurlik afgeskryf. Dit was nou wel ‘n Isuzu, maar selfs hulle sukkel bietjie as daar sand in die enjin is. Verder was my pa se bruinleersak van Sanlam ook bietjie bruiner as voorheen, ‘n werker het sy hoed verloor, en ‘n paar tapes het ook in die slag gebly. Onderandere ‘n Leon Schuster tape as ek dit nie mis het nie - nie dat ons regtig baie hartseer daaroor was nie :)

Nou my familie is lief daarvoor om liewer te lag oor iets às om te huil. Ek dink dis wat ons al baie kere in die verlede ook aan die gang gehou het. En een ding wat ek goed kan onthou van hierdie gebeurtenis is dat toe alles afgehandel was en die versekering uitbetaal het, my pa weer vir hom ‘n bakkie gekry het. Maar hierdie een was bietjie anders as die vorige. In sy woorde: “…hierdie een was standaard met roeispane!”.

1 comment:

  1. Hahahaha ja die feite is so bietjie anders maar die storie is waar!!!! goed ons kan lag oor alles. Dit hou ons aan die gang!!!

    ReplyDelete

Los daar 'n comment, toe! If a red line appears after you click "Post Comment", just keep clicking it until your comment is submitted. It usually works after the 3rd click. Please.