Friday, October 19, 2012

Terug met 'n hoogtepunt

Hel ek het lanklaas iets om by blog gedoen! Dis ‘n skreiende skande! En die feit dat hierdie jaar omtrent omgevlieg het, het ook nie rerig gehelp nie. Kom ons sê maar ek was die afgelope paar maand doodstil hier op Rooierwe om die dorre landskap en leegheid van die regte Rooierwe, digitaal in ‘n virtuele omgewing uit te beeld :)

Maar genoeg dorheid en niksgeit vir eers! Kom ek kom weer in die blogging ding in deur een van my hoogtepunt van my jaar sover te deel.

In April het my ma getrou, so ons het bietjie fees gevier in Wellington. Dit was omtrent ‘n lekker besigheid en ek moes selfs ‘n heildronk op my ma instel. Nou ek is nie regtig ‘n “public speaker” nie, so ek was effens op my senuwees, maar dit het eintlik heel goed afgeloop.

Ek dink wel ek het hier en daar dalk ‘n paragraaf misgelees, so toe dink ek: hoekom post ek nie net my heildronk hier nie! Dan kan my ma en wieookal wil dit na hartelus lees en presies weet wat ek daardie dag in April alles wou sê. So hier is dit:

Die mense wat vanaand hier is vir die gratis drankies sal bly wees om te hoor dat
dit nou tyd is vir die heildronke.
Die wat hier is vir die gratis kos…hou net uit, ons is amper daar.

So ja, ek stel vanaand ‘n heildronk op my ma in. Eerstens wil ek almal net meedeel dat ek nie rerig baie lief is vir toesprake maak nie, so as dit suck gee ek julle volle toestemming om julle ore toe te druk. Behalwe natuurlik vir my familie en vriende, julle moet maar saam met my deur dit suffer.

Wat kan ek van my ma sê?

Sy is gebore in Calvinia, waar sy van kleintyd af ‘n liefde vir Foschini klere ontwikkel het, danksy my ouma. Hier op die platteland het sy grootgeword, leer bestuur, haar eerste ongeluk gehad, waaroor ons liewer nie sal uitbrei nie, getrou en kinders gekry.

Deur die jare het sy ons waardevolle lewenslesse geleer wat ons verewig sal saamdra, en het sy ons toegelaat om partykeer foute te maak, sodat ons daaruit ook kon leer.

Sy het dit aanvaar wanneer ons met hoenderkuikens van Markdag af by die huis gekom het, en maar help omsien na ons troeteldiere wanneer die snaaksigheid verby was. Sy kon ook goed planne beraam by tye wat ons moes trek en troeteldiere nie kon saamgaan nie. Rest In Peace Snoekie.

Sy het ons mooi geleer van huis goed, soos dat jou vloerlap en kombuislap nie dieselfde ding is nie, dat jy nie met jou skoene op iemand se bank sit nie, en so aan. En sy het haar baie goed van haar taak gekwyt, alhoewel ek vermoed dat sy steeds besig is met my broer se opleiding.

In tye van swaarkry het sy met haar woorde en dade vir ons gewys dat mens jou verantwoordelikhede nakom, en in tye wat ons stout was het die lat die praatwerk vir haar gedoen.

Deur dit alles is sy maar ‘n ma wat altyd besorg sal bly wanneer ons op die pad gaan, of jou sal sms om te herinner dat die pad nat is en jy versigtig moet wees, want dis deel van haar moederlike plig om dit vir jou te sê.

In afsluiting wil ek net dit sê: My ma is ‘n “plat of die aarde” mens met ‘n aansteeklike lag wat ‘n hele vliegtuig se mense aan die lag kan kry. Sy het ‘n goeie hart, ‘n wonderlike sin vir humor en kan met baie min in die lewe regkom. Al wat sy rerig nodig het is haar lip-ice, haar bottel water, enige chocolate, solank dit nie dark chocolate is nie, ‘n blikkie Doom en laastens, liefde.

Sjoe, ek moet sê dit voel lekker om weer iets te post. Miskien post ek nounet sommer nog iets oor een van my ander hoogtepunte die jaar, my verjaarsdag. Wag en kyk maar.

1 comment:

  1. sjoe kon nou eers lees wat alles op my troudag van my gesê is.............was te op my senuwees daardie dag kan nie alles onthou nie. Dankie Wynand vir hierdie. Nou sal ek onthou en as ek vergeet, kan ek weer kom lees. Jy het jou goed van jou taak gekwyt.

    ReplyDelete

Los daar 'n comment, toe! If a red line appears after you click "Post Comment", just keep clicking it until your comment is submitted. It usually works after the 3rd click. Please.