Wednesday, February 2, 2011

Die turksvy: Lelik en vol dorings, maar vrek lekker!

Ek het vandag gou vinnig by Fruit and Veg ingehol en sien toe sowaar ‘n boks turksvye teen ‘n prys wat nie die sak te seer sal maak nie. Ek het egter hierdie maand al klaar te veel spandeer, maar daai boks turksvye moes ek hê. En hier’s hoekom…

Ek onthou hoe ons al die jare emmers vol turksvye van die Rooierwe af gekry het (verniet natuurlik), wat dan eers in ‘n ou 25l verfblik in die water moes lê vir al die dorings om af te kom. Daarna is dit sorgvuldig met ‘n vurk op die bord vasgepen, die twee punte met ‘n mes afgesny en die ryp turksvy uitgerol uit die skil.

As jy jou lus kon sluk en bietjie wag vir die turksvye om lekker koud te raak in die yskas, kon jy dit op hul beste ervaar. Die bak het egter redelik vinnig gesak, so as jy te lank gewag het, moes jy dalk tot die volgende turksvyseison wag.

My “verhouding” met turksvye het egter nie by die vrug geeindig nie, maar selfs die blare ook ingesluit. Daar was ‘n tyd wat ek en my broer elkeen ons eie stuk draad gehad het, wat elke keer getrou saam Rooierwe toe gevat is om turksvyblare al die pad deur die grondpaaie tot by die huis agter die bakkie te sleep. As die pad erg sinkplaat was, het jou blaar dalk nog voor die eerste draai van die draad af gekom, maar andersins was dit “smooth sailing”, veral as jy dit kon regkry om joune bo-op die ander een se blaar te laat ry.

Dit was egter nie iets wat ons elke aand kon doen nie, want ons het geweet ons sleepery kon ‘n groot impak op die volgende jaar se turksvy oes hê.

As kind het ons dit baie geniet, en nou as “grootmens” sal ek dit enigetyd weer doen. Gee my net ‘n bakkie, ‘n turksvyblaar en ‘n stuk draad!

Na al die pratery sal ek maar gou die Fruit and Veg boks moet nader sleep en enetjie geniet…of twee…of drie.

1 comment:

  1. Ai hoe lus maak jy my nou vir daai rooierwe turksvye!!!

    ReplyDelete

Los daar 'n comment, toe! If a red line appears after you click "Post Comment", just keep clicking it until your comment is submitted. It usually works after the 3rd click. Please.