Wednesday, October 24, 2012

Isuzu's kan nie swem nie


Met al die oorstromings wat so in die Oos-Kaap woed, dink ek vanaand bietjie terug aan die slag wat my pa self in die middel van ‘n effense oorstroming beland het. Nou dit het baie baie jare gelede gebeur, so of my feite honderd persent korrek is weet ek nie, maar ag wat, dit wat ek kan onthou sal ek neerskryf,

Nou die storie loop so. My pa het buite die dorp op ‘n plaas bouwerk gedoen en was op pad na die plaas òf op pad terug dorp toe met ‘n paar werksmense by hom. Sover ek verstaan (en kan onthou) het hulle by ‘n rivier gekom, vinnig-vinnig die diepte gekyk, en toe besluit dat die Isuzu die pad deur die verbyvloeiende rooibruinwater sal kan aanpak. Soos die nootlot dit wil hê, kom die rivier toe net mooi goed af met dié wat hulle in die middel is, en daar gaan my pa met Isuzu en al rivier-af, in plaas van rivier-oor!

Van wat hy vertel het was dit “vinnig uitspring en naaste biesiebos gryp” om jouself te red, of dis plaasdam of dalk see se kant toe met jou! Wonder bo wonder het niemand iets oorgekom nie, en hulle het maar die pad plaas toe te voet aangedurf. As ek reg onthou het het my pa se broek êrens in die rivier geskeur, of a.g.v. oor ‘n draad klim, en hy het dus in sy onderbroek by die plaas opgedaag. (Gelukkig het hy nog baie PT-broeke gehad waar daai een vandaan gekom het.) Daar het hulle toe die nag deurgebring en sou die volgende oggend tot verhaal kom van wat gebeur het, en wat nou moes gebeur.

Na die hele affêre was dit tyd om rekening te neem van al die skade. Die bakkie was natuurlik afgeskryf. Dit was nou wel ‘n Isuzu, maar selfs hulle sukkel bietjie as daar sand in die enjin is. Verder was my pa se bruinleersak van Sanlam ook bietjie bruiner as voorheen, ‘n werker het sy hoed verloor, en ‘n paar tapes het ook in die slag gebly. Onderandere ‘n Leon Schuster tape as ek dit nie mis het nie - nie dat ons regtig baie hartseer daaroor was nie :)

Nou my familie is lief daarvoor om liewer te lag oor iets às om te huil. Ek dink dis wat ons al baie kere in die verlede ook aan die gang gehou het. En een ding wat ek goed kan onthou van hierdie gebeurtenis is dat toe alles afgehandel was en die versekering uitbetaal het, my pa weer vir hom ‘n bakkie gekry het. Maar hierdie een was bietjie anders as die vorige. In sy woorde: “…hierdie een was standaard met roeispane!”.

Saturday, October 20, 2012

Net reg vir ons familiefoto




Die ander dag praat ek en my nig oor die feit dat ons geen familiefoto in die flat op het nie. Die tendens is mos maar om alles digitaal op jou foon en rekenaar te hê. Asook deesdae op Facebook waar jou "vriende" dit kan like en share en wie weet wat nog.

Maar is dit rerig genoeg? Is daar nie sekere foto's wat verdien om teen 'n muur in jou huis eerder as iemand se virtuele Facebook-muur te pruik nie? Ek dink beslis so!

Daarom het ek vandag spesiaal 'n nuwe fotoraam aanmekaar geslaan wat ek vir 'n familiefoto wil gebruik. Ek weet net nie wanneer ek die familie almal bymekaar gaan kry vir 'n foto nie, maar dis 'n kwessie vir later. Vir nou het ek maar 'n tydskrif uitknipsel gebruik om net te wys hoe die foto sal vertoon.

Die voetstuk van die raam bestaan uit glasbuisies wat ek met my "verjaarsdag glue gun" teen die glas vasgeplak het. Nou dis die eerste keer wat ek met die...Gomgeweer gewerk het, buiten noudie dag wat ek die kas probeer regmaak het :) En ek moet sê, dis rerig 'n awesome ding. (Dankie nig).

Vir my eerste projek in 'n lang tyd, is ek baie gelukkig met hoe dit lyk!

▓ ▓ ▓

The other day my cousin and I discussed the fact that we don't have any family photos in our flat. These days  photos stay on our phones and computers, as well as on Facebook where "friends" can like and share as they please.

But is it really enough? Doesn't some photos deserve to be placed on a wall in your home rather than someone's virtual Facebook wall? I definitely think so!

That's why my day was spent constructing a new photo frame that I want to use for a family photo. I don't know when we will be able to get the whole family together for a photo, but that's something to worry about later. For now, I've just cut something out of a magazine to show you how the picture would look on the frame.

The base is made of glass tubes that I glued to the front glass with my "birthday glue gun". It's the first time I've used it, except for the other day when I tried fixing our kitchen cabinet, and I must say it's really an awesome tool. (Thanks cousin)

For my first project in a while, I must say that I'm really happy with how it turned out!

Friday, October 19, 2012

Wimpy sizzles!

Terwyl ek nou met hoogtepunte besig is, hier's nog een, my verjaarsdag in Julie.

Hierdie jaar het ek net volstrek geweier om weer ‘n bring en braai te hou! Nee aarde, genoeg is genoeg. Hierdie jaar wou ek iets anders doen en het toe besluit om my verjaarsdag te vier deur ‘n Midnight Breakfast in die Wimpy, op die N1 in die middel van “amper nerens”, te hou.

Die reeling was heel eenvoudig. Kom ons kry mekaar 12 uur by die Wimpy, eet lekker ontbyt, speel 30 seconds, en bring vir Wynand klomp geskenke – dis mos nie te veel gevra nie :)

Wel, gelukkig het ek ‘n paar awesome vriende en familielede wat bereid was om daai tyd van die nag by die Wimpy te gaan uithang. Ons het lekker geëet en gespeel, en ek kon selfs die waiters ompraat om in die middernagtelike ure vir my te sing. Sjoe dit was rerig awesome gewees.

Ek het bietjie op my rekenaar rondgespeel en die video probeer compress, so hier, kyk bietjie hoe die cool mense van Wimpy vir my sing.


Terug met 'n hoogtepunt

Hel ek het lanklaas iets om by blog gedoen! Dis ‘n skreiende skande! En die feit dat hierdie jaar omtrent omgevlieg het, het ook nie rerig gehelp nie. Kom ons sê maar ek was die afgelope paar maand doodstil hier op Rooierwe om die dorre landskap en leegheid van die regte Rooierwe, digitaal in ‘n virtuele omgewing uit te beeld :)

Maar genoeg dorheid en niksgeit vir eers! Kom ek kom weer in die blogging ding in deur een van my hoogtepunt van my jaar sover te deel.

In April het my ma getrou, so ons het bietjie fees gevier in Wellington. Dit was omtrent ‘n lekker besigheid en ek moes selfs ‘n heildronk op my ma instel. Nou ek is nie regtig ‘n “public speaker” nie, so ek was effens op my senuwees, maar dit het eintlik heel goed afgeloop.

Ek dink wel ek het hier en daar dalk ‘n paragraaf misgelees, so toe dink ek: hoekom post ek nie net my heildronk hier nie! Dan kan my ma en wieookal wil dit na hartelus lees en presies weet wat ek daardie dag in April alles wou sê. So hier is dit:

Die mense wat vanaand hier is vir die gratis drankies sal bly wees om te hoor dat
dit nou tyd is vir die heildronke.
Die wat hier is vir die gratis kos…hou net uit, ons is amper daar.

So ja, ek stel vanaand ‘n heildronk op my ma in. Eerstens wil ek almal net meedeel dat ek nie rerig baie lief is vir toesprake maak nie, so as dit suck gee ek julle volle toestemming om julle ore toe te druk. Behalwe natuurlik vir my familie en vriende, julle moet maar saam met my deur dit suffer.

Wat kan ek van my ma sê?

Sy is gebore in Calvinia, waar sy van kleintyd af ‘n liefde vir Foschini klere ontwikkel het, danksy my ouma. Hier op die platteland het sy grootgeword, leer bestuur, haar eerste ongeluk gehad, waaroor ons liewer nie sal uitbrei nie, getrou en kinders gekry.

Deur die jare het sy ons waardevolle lewenslesse geleer wat ons verewig sal saamdra, en het sy ons toegelaat om partykeer foute te maak, sodat ons daaruit ook kon leer.

Sy het dit aanvaar wanneer ons met hoenderkuikens van Markdag af by die huis gekom het, en maar help omsien na ons troeteldiere wanneer die snaaksigheid verby was. Sy kon ook goed planne beraam by tye wat ons moes trek en troeteldiere nie kon saamgaan nie. Rest In Peace Snoekie.

Sy het ons mooi geleer van huis goed, soos dat jou vloerlap en kombuislap nie dieselfde ding is nie, dat jy nie met jou skoene op iemand se bank sit nie, en so aan. En sy het haar baie goed van haar taak gekwyt, alhoewel ek vermoed dat sy steeds besig is met my broer se opleiding.

In tye van swaarkry het sy met haar woorde en dade vir ons gewys dat mens jou verantwoordelikhede nakom, en in tye wat ons stout was het die lat die praatwerk vir haar gedoen.

Deur dit alles is sy maar ‘n ma wat altyd besorg sal bly wanneer ons op die pad gaan, of jou sal sms om te herinner dat die pad nat is en jy versigtig moet wees, want dis deel van haar moederlike plig om dit vir jou te sê.

In afsluiting wil ek net dit sê: My ma is ‘n “plat of die aarde” mens met ‘n aansteeklike lag wat ‘n hele vliegtuig se mense aan die lag kan kry. Sy het ‘n goeie hart, ‘n wonderlike sin vir humor en kan met baie min in die lewe regkom. Al wat sy rerig nodig het is haar lip-ice, haar bottel water, enige chocolate, solank dit nie dark chocolate is nie, ‘n blikkie Doom en laastens, liefde.

Sjoe, ek moet sê dit voel lekker om weer iets te post. Miskien post ek nounet sommer nog iets oor een van my ander hoogtepunte die jaar, my verjaarsdag. Wag en kyk maar.

Monday, February 6, 2012

Tegnies is dit seker 'n "buislig"

Ek was 'n slag lus om 'n ander soort lig te maak, en hier is dit nou. Die lens bestaan uit klomp glasbuisies wat ek aanmekaar vasgeplak het. Die swart boks was 'n rekenaar se "Power supply" gewees en die blou voetjies is van die glasbuisies se proppe gemaak. Soos jy op die een foto hieronder sal sien, werk die lig ook ewe goed op sy sy. Moet sê, ek is heel tevrede met hoe dit uitgekom het.

▓ ▓ ▓

For once I felt like making a slightly different type of light, and here it is. The lens is basically a lot of glass tubes glued together. The black box used to be a computer's power supply and the blue feet are made of the lids from the tubes. As you'll see on the photo below, the light also works equally well on its side. I must say, I'm quite happy with how it came out. 

Saturday, February 4, 2012

'n Blik wat tik


My woonstel raak nou effens vol van al die horlosies :) Ek moet dalk begin om 'n paar weg te gee. Wie weet, ek hou dalk een van die dae sommer 'n gelukkige trekking en gee dan een weg aan 'n getroue follower. Bly ingeskakel. 

Hierdie een is uit 'n middelslag grootte koffieblik gemaak. Ek het basies net 'n gat in die blik gekap, die horlosiemeganisme ingesit, en die buitekant met spray paint bygekom. Die staander waarop die blik rus, kom uit 'n ou rekenaar uit. Dit het oorspronklik die rekenaar se waaier vasgehou, maar ek dink hierdie is waarvoor dit eintlik al die jare bedoel was.
▓ ▓ ▓

The amount of clocks in my flat is reaching a critical level :), I might just have to start giving some away. Who knows, one of these days I might have a little lucky draw to give one away to one of my faithful followers. Stay tuned.
This one is made from a medium sized coffee tin. I basically just made a hole, installed the clock mechanism and spray painted the outside. The black stand on which the clock rests is something I fished out of an old computer. It used to hold the computer fan in place, but I think this is what is was meant to be used for all along.

Friday, February 3, 2012

Ek en die pad


Soos ek genoem het, was ons die vakansie op ‘n roadtrip. Ons het gery, tent opgeslaan, geslaap, tent afgeslaan en nogmaals gery. Oor die algemeen was dit awesome – behalwe vir die spoedkaartjie wat ek in die pos gekry het met komplimente van die vriendelike mense by die Beaufort-wes Verkeersdepartement. (My eerste een ooit kan jy glo.)

Om te bestuur was nog altyd een van my gunsteling tydverdrywe. Vandat ek die eerste keer in Standerd 4 agter die wiel ingeklim het, was ek besot daarop. Nou my eerste kennismaking met bestuur het soos vir baie jongmense op die dorp in die Rooierwe begin - Hier was min genoeg om in vas te ry, en nog minder siele wat kan lag as jy die kar laat dood ruk. Ek onthou dit was ‘n Sondag, ons het gery met ons Tazz, en my passasiers was my pa, ma en ouma – ja, ‘n regular family outing :).

Alles het darem verbasend goed verloop, ek meen, geen niksvermoedende skaap of voetganger is beseer nie, en die kar is ook terug huis toe in die toestand waarin hy Rooierwe toe gekom het. So in alle opsigte ‘n goeie ondervinding.

Van toe af het ek nie sommer ‘n “Rooierwe toe gaan” gemis nie. Terwyl my pa by my oupa hulle koffie gedrink het, het ek en my broer eers gestry oor wie se beurt dit is, en daarna al te lekker om die blok met die bakkie gery. Dis maar hoe ons geleer het. Vandag het jy tot in 3de rat gekom en 40km/h gery, terwyl jy môre dalk tot in 4de gevorder het. En so het dit gegaan tot ons gemaklik die pedale kon trap sonder om te vergeet van die stuurwiel bo wat ook aandag verg. Beslis van die beste tye ooit!

Nou uiteindelik kry mens dan mos jou learners - wat dit half wettig maak om op die pad te wees - en dan natuurlik die grote: Uitpaseer vir jou regte lisensie. Teen hierdie tyd was ek en die kar goed bevriend, maar om my lisensie te kry, was daar ‘n paar ekstra kyke, kopdraaie en “hande-op-stuurwiel posisies wat ek nie in die Rooierwe van geleer het nie, en eers moes baasraak. Op die Maandag na my 18de verjaarsdag was dit toe sulke tyd.

Ek was nogal baie op my senuwees, maar alles het goed verloop. Todat een van die gangparkering paaltjies uit die bloute uit besluit het om in my vas te ry (of whatever paaltjies ookal doen). So ja, ek het nie eers by my voorritinspeksie uitgekom nie en het ook nie die geleentheid gekry om my nuut aangeleerde kopdraaie en kyke af te show nie. Dit sou wel kom, maar eers na ‘n hele maand.

Op die 17de Augustus 2006 het ek dit toe gekry…Vryheid. Die “ek gaan wettiglik sokkie toe met die kar”, die “soek jy ‘n lift met my ma se kar?”, die “ek sal winkel toe ry om dit te gaan koop” en al daai lekker goed wat jou soos ‘n grootmens laat voel.

En ja, nou bestuur ek al vir ‘n paar jaar, was al in ‘n ongeluk, op ‘n roadtrip, met ‘n papwiel langs die pad gestrand en by die BP met ‘n stukkende starter verras. Ek het al te vinnig gery (dankie Beaufort-wes), ver gery, en sommer net vir die lekkerte in die nag gaan ry. En deur dit alles ervaar ek nog steeds bestuur soos ek dit daai eerste Sondag in ‘n blou Tazz in die Rooierwe samet my pa, ma, ouma en die niksvermoedende skape ervaar het. As ‘n oomblik van absolute plesier.

Thursday, February 2, 2012

Die onvermydelike post / The inevitable post


Hello Rooierwe, long time no see! Hierdie is nou daardie post wat een of ander tyd op elke liewe blog daarbuite verskyn – die een waar die blogger verskriklik verskoning maak vir die feit dat hy/sy so lanklaas iets gepost het. Wel, ek’s regtig jammer. Wat kan ek sê, die laaste paar maande van 2011 was effens besig by die werk, ek het nie rerig inspirasie gehad om iets nuuts te maak nie (nog minder plek in my kamer) en ek het ons vakansie roadtrip reelings probeer finaliseer. Slegte verskonings ek weet, maar nou dat dit alles verby is…wel hier is ek.

Eerstens, jy sal bly wees om te hoor dat ek al klaar iets gemaak het wat ek binnekort gaan post - ek moet net my kamera se batterye laai :) Ek is ook besig met ‘n lig wat basies klaar is, so ten minste weet jy dat twee toekomstige posts in die pyplyn is. Wat ek solank kan sê is dat die een ding wat klaar is iets met ‘n koffieblik te doen het, en die lig iets met glas buisies. Wag en kyk (hopelik nog hierdie jaar :)

Oraait, baai!

 ▓ ▓ ▓

Hello Rooierwe, long time no see! This is that post that I’m sure appears on every single blog out there, the one where the blogger apologises profusely for the fact that he/se hasn’t posted anything in a very long time. Well, sorry. The end of 2011 was quite busy at work, I didn’t feel particularly inspired to make something new (and didn’t have space in my room), oh and I was also busy finalising our vacation roadtrip plans. Bad excuses, but there you have it!

Firstly, you will be delighted to hear that I have already made something new, I just have to charge my camera’s batteries. I’m also busy with a light – so at least you know that two posts are in the pipeline. What I can say so long is that the one item has something to do with a coffee tin, and the light something to do with glass tubes. But wait and see (hopefully not until next year :)

Okay, bye!